Veldgids se inisiatief vir wildtuin se honde-eenheid kry groot aftrek

April 18, 2016 –  Jaco Buys is ‘n veldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin wat met SANParke se Ere Veldwagters en lede van ‘n Facebookgroep hande vat om met skarefinansiering ‘n spoorhond te finansier.

Die NKW se honde-eenheid maak ‘n beduidende bydrae in die bekamping van renosterstropery. Nou kan Jan Alleman deur skarefinansiering by die stryd aansluit. Foto: Ravi Gajjar

SKUKUZA – Toe veldgids Jaco Buys die bykans 40 000 lede van die SANParks Kruger National Park Facebook-groep op 29 Maart gevra het om by te dra tot sogenaamde skarefinansiering vir teenstropingsoperasies, het dit wye reaksie van die groep ontlok.

Skarefinansiering is wêreldwyd ‘n gewilde aanlynmanier om projekte te befonds. Dit behels dat ‘n groep mense op ‘n aanlynplatform bymekaarkom en saam in ‘n projek belê.

Vele baanbreker-idees het na vore gekom met dié manier van befondsing, juis soos die verbeeldingryke manier waarop Jaco en die Lowveld Honorary Rangers die honde-eenheid van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) wil help.

Dié organisasie van ere-veldwagters is deur SANParke versoek om die honde-eenheid se welsyn as ‘n projek aan te pak.

“Mense sê dikwels hulle wil help om renosterstropery te bekamp, maar voel gefrustreerd omdat hulle nie werklik iets kan doen nie. Daar is nou ‘n manier om in te spring.

“Help ons om deur skarefinansiering ‘n spoorhond vir die honde-eenheid in die wildtuin te borg. So kan ons twee passies bymekaar bring, ons liefde vir die wildtuin en die bewaring van renosters.”

Jaco Buys, NKW-veldgids Foto: Benno Stander

Jaco voel hy maak as veldgids ‘n bestaan deur in die bos te werk en wil graag iets teruggee.

“Ek kan nie fisies by die bekamping betrokke raak nie. Die beste wat ek kan doen, is om ‘n positiewe manier te vind om by te dra.”

Sy vorige projek om die honde-eenheid onder leiding van Johan de Beer te help, het reeds vrugte afgewerp. Die organisasie het onlangs R25 000 tydens ‘n fondsinsamelingsprojek saam met Bruce Fordyce en sy organisasie, Parkrun, versamel en aan die eenheid oorhandig.

“My simpatie lê sterk by die eenheid en hul spanne.

“Hulle werk is nimmereindigend. Sodra hulle ‘n stroper vasgetrek het, is daar miskien een aand wat hulle dalk goed kan voel. Die volgende dag begin die volgende uitdaging. Hulle het werklik al ons hulp en ondersteuning nodig.”

Die fondse wat deur skarefinansiering geïn word, sal gebruik word om ‘n spesiaal geteelde en opgeleide spoorhond van R30 000 aan te koop.

Een van hierdie bloedhond/Doberman-kruisings wat reeds ingespan is, het agt stropers in drie weke platgetrek.

Die bloedhond/Doberman-kruising maak ‘n uitmuntende koue spoor spoorhond uit. Foto: Elize Parker

Die groep sal as ’t ware ‘n aanneembelang in die hond verkry en kan ook sy naam kies. Diegene wat bygedra het, sal ook deurlopend op die hoogte van die hond se vordering gehou word.

“Dit moet ‘n hondenaam wees wat gesag afdwing,” voel Jaco. “G’n name soos Poochie nie want hierdie is werkershonde wat stropers moet vastrek.”

Die vorige bobaashond van die NKW, Killer, en die Spesiale Veldwagtereenheid boesem steeds groot gesag in en is legendaries om stropers die skrik op die lyf te jaag.

“Ek glo as Suid-Afrikaners kan ons positief verander en ons energie aanwend om ‘n manier te vind wat die wêreld ‘n beter plek vir almal kan maak.

“Ek daag al die lede van die groep uit om by ons aan te sluit om die hande van ons honde-eenheid te sterk.

As jy by die groep wil aansluit en hande wil vat om ‘n spoorhond te finansier, gaan op die web na SANParks Kruger National Park se Facebookblad en kontak die administrateur van die blad, Dalene Preston deur ‘n boodskap te laat dat jy wil deelneem aan die projek.