Ervare veldgids red groep van olifantstormlopie

May 26, 2016 – ‘n Olifantstormlopie is geen bosstapper se droom nie, maar ervare veldgids Jaco Buys het met sy dapper optrede teenoor ‘n kwaai olifantmamma die adrenaliengedrewes rustig na veiligheid gelei.

Jaco Buys (links) en Jannie Jurgens in die rivierloop naby Krokodilbrugkamp in die Nasionale Krugerwildtuin waar ‘n kwaai olifantkoei op ‘n groep afgestorm het

KROKODILBRUG – Jaco Buys, veldgids by Krokodilbrug in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), is onlangs aangewys as een van ses finaliste om die kroon as Africa Direct se Beste Safarigids in Suid-Afrika 2016 te dra.

Die deelnemers neem vanaf 1 tot 6 Junie deel aan ‘n kompetisie van die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika.

As ek ‘n beoordelaar was, sou ek beslis vir hom stem want tydens ‘n staptog in ‘n rivierloop in die area rondom Krokodilbrug het hy my en ‘n paar ander stappers op ‘n onbetwisbare wyse van ‘n olifantstormlopie gered.

So het dit gebeur…

Ons voete val sag op die smal bospad wat olifante al eeue stofgetrap het. Vooraan die agtstuks mense stap die veldgidse Jaco Buys en Jannie Jurgens. Dit is maar die tweede keer wat Jaco die pad as gids aanpak. Net hout kraak soos wat bosse se verskuilde doringstakke eenkant gestoot word. Die son bak op ons koppe.

“Luister na die bos. Word bewus van hierdie ander lewe om ons, die stemme van die bos,” doen die pa van Lienka en Matthias rustig aan die hand.

Soos ‘n bos-ensiklopedie deel die twee hulle veldkennis. Ons leer van giftige plante, hoe om die geslag van die groot katte uit hul kussinggrootte van hul pote te herken en na watter voëlroepe ons kan luister.

Tussen die tweeling met die onnutsige sin vir humor is die rare kameraderie van manne wat ‘n sak sout of twee saam opgeëet het.

Netsowel, want toe die olifantkoei ‘n rukkie later onverwags vanaf ‘n rivierwal in ons rigting storm om haar kalfie te beskerm, is dit Jannie wat ons versigtig agter ‘n skuiling van bosse inlei.

Jaco Buys

Jaco neem besorg stelling in tussen ons en die koei met sy geweer. Met handtekens verstaan hulle presies elkeen se plig.

Die kwaai olifantmamma word nie sommerso gestuit nie. Sy is goed omgekrap deur hierdie ongewone bedreiging.

Na ‘n oomblik se huiwering storm sy weer aan en kom so 15 meter van ons tot stilstand dat die rivierloop se stof wolke maak. Haar reuse-ore werk heen en weer soos ‘n waaier. Die kalfie laat spaander in ‘n ander rigting asof aangesê.

Vir my stadsore klink haar getrompetter na ‘n oorlogsverklaring. Jaco haal sy geweer oor.

Neem self ‘n dreigende houding in. Hy skree op haar. En ek bid die olifant moet asseblief Afrikaans verstaan! Later sou hy noem dit was maar die tweede keer vanjaar wat dit nodig was om sy geweer oor te haal.

Die metaalgeluid stuit die koei in haar spore. Agter kom die res van die trop en keer die kalfie weg.

Ons tree agteruit en volg Jaco en Jannie verder met ‘n wye ompad. Skaars ‘n paar treë weg, toe klink ‘n leeuwyfie se waarskugeluide op. Ons het dit duidelik te na aan haar en haar welpies gewaag, fluister Jaco uit ons skuilplek agter ‘n boom.

Dis die dag van die kwaai mammies. Vroeër het Jaco ons op haar spore in die rivierloop gewys. Vars spore. Hierdie inwoner van Hectorspruit kan ‘n spoor soos ‘n boek lees.

Weer eens gaan sy hand stilweg op en almal staan stil. Sy veiligheidsles vooraf het duidelik inslag by die olifant-verskrikte groep gevind. Ons sou ‘n safari in styl hê, gewapen met sonskerm en hoede maar ook ‘n volle stel handtekens ken om in noodsituasies te help.’n Ervare maar ietwat onrustige blik word tussen hom en Jannie gewissel. Ons almal verbleek en die veg-of-vlug instink skop in. Ons slaan adrenaliengedrewe haastig ‘n ander pad in.

Eers toe ons veel later op die walle van die Krokodilrivier verpoos, mymer ons hoe nou ons ontkomings was.

Jaco Buys

Kalm gesels Jaco oor die eeue-oue granietwalle van die rivier, seekoeie waarvan net oë en oortjies wys en swart-en-wit watervoëls wat soos begrafnisondernemers aan die oorkant van die rivier staan.

Met die terugstap was dit duidelik die gevaar is nog lank nie verby nie. Die olifante is steeds ‘n paar asemteue weg.

Hulle grys lywe soos skaduwees agter die bosse. Ons stap kronkelpaaie en ompaaie totdat ons in die diep sand van die rivierloop kan terugstap. Bewus van die kwêvoëls se waarskuwings. “Die go-away bird,” fluister ‘n mede-stapper.

Ons stop ‘n wyle om ‘n sonwitgebrande bokskedel en horings op te tel wat iemand as soewnier wil huistoe neem. Jaco maan ons moet aanstaltes maak voor die donkerte ons betrap.

Dit is die Laeveld se goue uur.

Ons is veilig terug en rus moeg teen die oop veldvoertuig om die sonsondergang dop te hou. Steeds bly Jaco waaksaam toe die hiënas nader staan. Hy maak hul hoë roep na en hulle kies koers bosse in.

Vir ‘n oomblik lê hy sy geweer neer en rus teen die voertuig. Elke duim van sy lang lyf is hierdie sorgsame eggenoot van Laurika beslis die titel Beste Safarigids van 2016 werd